“Met die inperking wat blyk of dit ’n onophoudende stryd is, is dit nou meer as ooit vantevore belangrik om die neiging na virtuele besigheid in ag te neem en dat kleinsake-ondernemings in diepte moet kyk na innoverende maniere om hulle besigheid aanlyn beskikbaar te stel,” meen Hein Boshoff, besturende direkteur van Digency in Kaapstad.
“Die vraag by meeste kleinsake-ondernemings is dat hulle nie ’n idee het waar om te begin nie, en dat meeste bemarkingsadvies nie aan hulle besigheidsmodel gekoppel is nie,” het Boshoff vertel.
Daarom het hy, in samewerking met die AHi Wes-Kaap en besigheidskontakte in Duitsland, ’n tienpuntplan vir ’n slim digitale strategie ontwikkel om seker te maak ’n kleinsake-besigheid is gerat vir die digitale leefwyse waarin sake beweeg met minimale finansiële onkostes.
1. Die belangrikheid van databasis-ontwikkeling
Menigde besighede het ’n stelsel van e-posadresse en kontaknommers van hulle kliëntebasis. Met voorste tegnologie soos MailChimp kan jy templaat-gedrewe e-posse in groot hoeveelhede uitstuur. Jy kan ook deur middel van WhatsApp Business en SMS-boodskappe met jou kliënte kommunikeer rakende COVID-19-promosies en inligting.
2. Multi-kanaal strategie
“Takealot en Amazon se sukses is nie net te danke aan hoe dit derdeparty-produkte verwelkom nie, maar ook aan die manier hoe die omvang van besigheid verbreed is”. Dit is belangrik vir besighede om seker te maak hulle besigheid is aanlyn en aflyn toeganklik. Kanale wat onder meer bekend is onder verbruikers is Facebook en Instagram.
3. Is jou besigheidsinligting korrek aanlyn?
Een van die grootste uitdagings wat sommige besighede ervaar, is dat hulle nie op Google gelys word nie. Deur middel van Google Business het besighede die vermoë om hulle besigheidsinligting, onder andere hulle besigheidsure, webwerf, beskrywing en foto’s op Google en Google Maps op te dateer.
4. Groei jou markblootstelling
Besighede kan, deur middel van Facebook Business, bepaalde gehore met gespesifiseerde belangstellings in sekere areas teiken met advertensies en promosies.
Byvoorbeeld – as jy ’n besigheid het in George, kan jy binne 5 kilometer met jou potensiële mark kommunikeer. Dit alles teen ’n minimale koste.
Vir gratis advertensiespasie, kan besighede op hulle plaaslike “Staan Saam”-groepe plasings maak of plaaslike advertensie-platforms gebruik om in te adverteer, soos “Still Buy Local”.
5. Leer by jou kompetisie en fokus op kliënte-ervarings
Om jou kompetisie dop te hou en by hulle te leer is een van die belangrikste komponente van bemarking. “Die sleutel tot sukses van enige besigheid is om te doen wat jou kompetisie nie kán doen nie,” vertel Bill Gates in ’n onderhoud met Forbes.Facebook se Insights-funksie en Google Analytics stel jou in staat om jou kompetisie te monitor en selfs te kyk wat hulle beter doen.
Starbucks gee waarde vir kliënte deur middel van gratis internettoegang. Met platforms soos Airbnb Experiences en aanlynwebinaarplatforms kan jy aanlynervarings skep met digitale video’s. Aanlynervarings gee dus waarde vir kliënte en dryf produkverkope en markblootstelling. Watter ervarings kan jy aanlyn vir kliënte bied?
6. Data vir innovasie
Platforms soos SEMras laat besigheidseienaars toe om data oor hulle verbruikers in te samel. Jy kan met dié platform kyk wie die mense is wat jou besigheid deur middel van Google besoek, waar hulle bly, hoe oud hulle is, of hulle met ’n selfoon of rekenaar jou webtuiste besoek, watse webbladsye die beste doen en watter soekwoorde jou gebruikers gebruik het om op jou webtuiste af te kom.
7. Webtuiste as digitale anker
In ’n studie deur Google die afgelope maand, het die data-insamelaar bekend gemaak dat 80% van alle bladsye op hulle webtuiste deur middel van ’n selfoon besoek word. Om ’n webtuiste te hê is van kardinale belang vir enige besigheid. Dit dien as ’n anker vir jou hele digitale ekosisteem aangesien jy basiese inligting hierop kan verskaf en mense na een bladsy kan verwys. Besigheidseienaars wat nie ’n webtuiste het nie, kan www.ahibusiness.com besoek om ’n aparte bladsy-skakel te kry waarna jy jou klante kan verwys.
8. Gebruik die tyd om vertroue te bou met jou kliënte
Indien jou besigheid nie tans kan handeldryf nie, kan jy die tyd gebruik om jou vertroue by kliënte te bou en om hulle sekerheid te gee dat jou dienste wel beskikbaar sal wees.
Jy kan dit doen deur kompetisies te hou en jou sosiale media platforms te groei, afslagkoepons te verkoop wat kliënte kan gebruik sodra jou besigheid oop maak en om vir hulle interessante “agter-die-skerms” video’s te wys van wat jou besigheid gedurende die tyd van afsondering doen.
9. Vraag na aanlynverkope
Die “nuwe normaal” gaan grotendeels uit aanlynverkope bestaan. Die feit dat aanlynverkope op alle vlakke, behalwe vir drank en sigarette, oop is, dra by. Indien jou besigheid produkte verkoop, wat deur middel van aflewering of aanlyn verkoop kan word, is dit belangrik om hande te vat met ’n verkoopsparty soos Takealot of om ’n e-handelstelsel op jou webtuiste te implimenteer. Dit kan kliënte regoor Suid-Afrika, of regoor die wêreld, die geleentheid gee om jou produkte te bestel.
10. Vat hande met jou gebruikers
Baie besighede het nie die geld om kunstenaars derduisende rande te betaal om hulle produk te adverteer nie en oor die tyd het ons geleer dat bekendes nie altyd op ’n effektiewe manier traksie na jou produkte toe kan dryf nie.
Om ’n kompetisie te loods waar jy versoek dat jou gewone kliënte op sosiale media wys dat hulle jou produkte gebruik dien groter bemarkingswaarde as internet-bekendes met groot volgelinge wat jou produk, saam met ander produkte, bemark. Influencers is ideaal om ‘n jonger mark te trek.